Dis opwindend om ’n opvoering in die opgeknapte Theatre On The Bay in Kampsbaai by te woon, want steeds is daar iets nuuts om raak te sien. Vir my was dit hierdie keer die besonderse matte.

Nadine Minnaar se stel sluit as’t ware aan by die sfeer en aantreklikheid van die teater self. Op die verhoog sien ons Monkswell Manor. Giles (Mark Sykes) en Mollie Ralston (Melissa Haiden)  het dit onlangs geërf en dit in ’n gastehuis omskep. Hier is alles afgerond, netjies en strelend vir die oog. In die spel kom humor ook meer na vore as wat ek uit vorige produksies kan onthou. Dis asof die gewelddadigheid onder sulke omstandighede juis sterker uitstaan.

Laatmiddag, terwyl dit sneeu, begin die Ralstons se eerste gaste opdaag. Twee van hulle word deur baie bekende Suid-Afrikaanse spelers vertolk. Michele Maxwell se mevrou Boyle laat haar dadelik geld met ’n kragtige stem en dominerende liggaamstaal. Sy is beslis aan beter gewoond en is byna met niks tevrede nie. Sien jy vir Malcolm Terrey onthou jy sy voortreflikheid in komedies. Hier is hy afgetrede majoor Metcalf. In talle bronne word die majoor as gemoedelik en vriendelik bestempel. Dan uit London Mark Wynter. Hy het sy loopbaan as popsanger begin. Sedertdien het hy al opgetree in bv 23 musiekblyspele (onder meer van Andrew Lloyd Webber) en 38 toneelstukke. Hier is hy die enigmatiese mnr Paravicini wat darem aan die ramp met sy motor in die sneeu ontkom het. Dié meneer in swart hou blykbaar daarvan om homself te grimeer. Regisseur Jonathan Tafler het ook al baie toneelprestasies behaal in Brittanje, in die besonder as radioregisseur. Vroeër vanjaar was hy einste mnr Paravicini in St Martin’s Theatre, die Mousetrap-tuiste in Londen.

Twee jonger gaste het opgedaag vóór dié meneer: Casewell (Shannyn Fourie) en Christopher Wren (Matthew Lotter). Casewell kom as nie baie vroulik voor nie en haar kleredrag “bevestig” dit. Fourie vertolk haar as “privaat”. Bronne beskryf Christopher (vernoem na die beroemde argitek in die hoop dat hy self een sou word!) as ’n warkop en selfs neuroties. Maar Lotter skep van die soort tonele waarin ’n mens skielik treffende insigte kry. Iets bekend, maar wat nou kommentaar lewer op ’n belangrike element in die drama. Hy sit na aan die gehoor wanneer hy sê: “You never really know what anyone is like – what they are really thinking. For instance, you don’t know what I’m thinking about now, do you?”

Dit sluit aan by die bevinding van speurdersersant Trotter (Aidan Scott). Hy kom ondervra almal in die gastehuis. Al die pad op ski’s. ’n Moord is elders gepleeg. Die polisie het ’n “wenk” gekry dat die vermoorde se dood gewreek kan word deur iemand hier in die gastehuis te vermoor. In die ondervraging word dit duidelik dat dit ’n versameling vreemdelinge is, en dat hulle mekaar geensins kan vertrou nie. Christie het die  moordgegewe gedeeltelik gebaseer op ’n werklike tragedie in 1945 toe ’n boer en sy vrou in Shropshire kinders wat by hulle in pleegsorg was grusaam mishandel het.

Aidan Scott vertolk speursersant Trotter as maar gewoon. Dit is opmerklik dat Christie nie ’n geskakeerdheid in sy karakter ingebou het soos bv in haar Hercule Poirot of Miss Marple nie. (Richard Attenborough het die rol vir die eerste keer vertolk.)

Waar het alles begin? In 1947 wil die BBC koningin Mary se verjaardag vier en sy kan ’n skrywer kies vir ’n hoorspel. Die uitverkorene is Agatha Christie. Sy skryf Three Blind Mice. Sy het ook ’n kortverhaal daarvan gemaak, maar dit mag nie in die Verenigde Koninkryk gepubliseer word voor die opvoer van The Mousetrap ophou nie. Dit is wel in die VSA gepubliseer.

Toe sy die vollengte verhoogstuk skryf, moet die titel verander word omdat Emile Littler dit reeds gebruik het. Skoonseun Anthony Hicks stel voor sy wend haar tot Shakespeare se Hamlet. In die derde bedryf, toneel twee laat Hamlet ’n toneelstuk opvoer. Koning Claudius vra wat die naam daarvan is. Hamlet: “The Mouse-trap. … This play is the image of  a murder done in Vienna.” Dit heet eintlik “The Murder of Gonzago”. In bedryf twee het Hamlet egter besluit dat die wellusteling moet boet: “The play’s the thing wherein I’ll catch the conscience of the king.” In Monkwell Manor word verskeie karakters se gewetens wakker gemaak. Booshede van die verlede word opgerakel.

Die allereerste opvoering van  The Mousetrap vind plaas op 6 Oktober 1952 in die Theatre Royal te Nottingham. Daarna word getoer met die stuk na verskeie teaters voordat dit op 25 November 1952 open in die Ambassador’s Theatre in Londen. Hier begin die legendariese opvoergeskiedenis. Dit is nie ’n geval van ’n toneelstuk wat oor jare, selfs eeue telkens herleef met ’n nuwe speelvak nie. Dit word deurlopend opgevoer. Op Saterdag  23 Maart 1974 verskuif alles en almal na die nabygeleë St Martin’s Theatre  en reeds op Maandag 25 Maart 1974  stap ’n gehoor in.

As verjaardaggeskenk het Christie die regte aan haar kleinseun Matthew Prichard geskenk. In die goeie teaterprogram kry ons sy herinneringe aan haar. Hy moes aandag gee aan ’n paar voorskrifte solank as wat The Mousetrap nog opgevoer word. Geen verfilming; net een ander produksie per jaar in Brittanje.

Van die stel van 1952 is daar nog net een ding steeds in gebruik: die horlosie op die kaggelrak.

The Mousetrap

Met: Melissa Haiden, Mark Sykes, Matthew Lotter, Michele Maxwell, Malcolm Terrey, Shannyn Fourie, Mark Wynter en Aidan Scott.

Regie: Jonathan Tafler

Stel ontwerp en geskep deur Nadine Minnaar. Kostuums deur Marcel Meyer.

Aangebied deur Pieter Toerien in ooreenkoms met sir Stephen Waley-Cohen in The Theatre On The Bay, Kampsbaai. Tot 19 Januarie 2019.